
Andrew Louw
DA Northern Cape Leader
082 383 6914
Die Demokratiese Alliansie (DA) hoop dat ‘n besoek aan die Hantam Munisipaliteit in Maart deur die Openbare Beskermer, Thuli Madonsela, daartoe sal sien dat geregtigheid wen.
Dit kom nadat die DA verlede jaar Augustus ‘n dossier aan die Openbare Beskermer oorhandig het, wat verwys na beweerde bedrog wat deur ‘n ANC-raadslid gepleeg is. Die raadslid het glo R11 300 vir homself gevat. Dié geld was veronderstel om aan spesiale projekte bestee te word.
Die bewerings het aan die lig gekom nadat die wettige begunstigdes klagtes ingedien het. Die raad het toe ondersoek ingestel waarna Hantam se burgemeester, Abrie Fritz, kriminele klagtes teen die raadslid gemaak het. Hy het ook ‘n brief aan aan die LUR van die Departement van Koöperatiewe Regering, Kenneth Mmoeimang, gerig waarin hy hom gevra het om die raadslid af te dank, maar hy het nog geen antwoord van die LUR ontvang nie. Hy het ook aan die waarnemende premier sowel as die minister van koöperatiewe regering geskryf, maar steeds is geen aksie teen die raadslid geneem nie.
Die gesteelde geld is al van die raadslid terugontvang, maar dit maak steeds nie sake ongedaan nie. Inteendeel is dit ‘n indirekte aanduiding van skuldbekenning. Die DA glo dat die raadslid deur hoës in die regering beskerm word. Ons is ook van mening dat dit net nog ‘n “John-Block-tipe” saak is, waar beginsellose politici beskerm word en hulle eie selfsugtige belange prioriteit geniet bo die beginsels van goeie regering en verantwoordelikheid. Dit kan gesien word in Mmoeimang se verklaring (wat hy ten tye van die Openbare Beskermer se besoek op 8 Augustus 2012 gemaak het) dat die raadslid nie verantwoordelik gehou kan word nie aangesien die bedrag minder is as wat die raadslid verdien.
Die DA is daarvan bewus dat die kriminele saak nog hangend is, maar as alle feite in ag geneem word, is daar geen rede waarom die LUR nie intussen die raadslid kan afdank nie.
Die DA hoop dat Madonsela die uitkoms van haar ondersoek gedurende haar besoek aan die Hantam bekend sal maak. Dalk dan sal die hoës in die regering kennis neem sodat geregtigheid kan geskied.