Demokratiese Alliansie peprsverklaring
Andrew Louw
DA Provinsiale Leier
Coghsta LUR moet die aanstelling van Kamiesberg Tegniese Hoof omkeer
11 Julie 2018
Uitgereik: onmiddelik
Die DA het vir Coghsta LUR, Bentley Vass, gevra om te verseker dat die aanstelling van die Tegniese Hoof van Kamiesberg munisipaliteit, Frederik Links, onmiddellik opgeskort word en sy bekwaamheidsvlakke nagegaan word na aanleiding van sy ernstige onvermoë om tegniese dienste te verskaf.
Links besit nie die mees basiese kwalifikasies en ervaring wat nodig is om Kamiesberg na sukses te lei nie. Terwyl hy die vereiste bevoegdheidstoets ondergaan het, bly die uitslae daarvan ‘n raaisel. Die DA vermoed dat die rede hiervoor is omdat hy nie aan die basiese vaardigheidsvereistes voldoen nie, soos wat voorgeskryf is in die Munisipale Stelselswet en die onderskeie regulasies.
Links is ‘n voorman by die munisipaliteit. Hy is daarna bevorder tot die Hoof van Tegniese Dienste. Links is uiteindelik afgedank weens sy onvermoë om talle water en ander tegniese uitdagings in Garies, Kamieskroon en Hondeklipbaai op te los. Hy het egter ‘n arbitrasieproses gewen weens ‘n tegniese punt en sy amp is herstel.
DA-kiesafdelingshoof van Namakwaland, Veronica van Dyk, het aan Vass geskryf en gevra dat hy ondersoek instel na die prosedure wat gevolg is gedurende Links se aanstelling, asook die rekord van aanbeveling van die onderhoudspaneel en die rekord van goedkeuring deur die Raad, insluitend of regsadvies verkry is in Links se aanstelling.
Die DA wil ook hê dat die kundigheid en kwalifikasies van die tegniese departementshoofde ondersoek word, aangesien hulle versuim het om ‘n ononderbroke toevoer van water en elektrisiteit aan plaaslike inwoners te verseker.
Dit is duidelik dat Links, en sommige van sy departementshoofde, in professionele posisies geplaas is ongeag hul gebrek aan vermoë, om ‘n politieke agenda te dien ten koste van dienslewering.
Slegs verandering deur ‘n DA-geleide regering sal verseker dat openbare geld gebruik word om alle burgers van Kamiesberg te bevoordeel, en nie net dié wat met die regerende party verbind is nie.
Navrae:
Andrew Louw
Provinsiale Leier
082 383 6914
Shelley De Witt
Navorser
082 847 1387