1 November 2016
Vrystelling: Dadelik
Tydens ‘n sitting van die Noord-Kaapse Provinsiale Wetgewer in Siyathemba op 1 November 2016 het die wetgewerlede van die Demokratiese Alliansie verskeie gemeenskapskwessies geopper.
Mosies is ter tafel gelê oor die volgende:
Die swak bestuur van munisipale rekeninge deur die Gamagara munisipaliteit, wat meebring dat inwoners gereeld onder onregverdige kragafsluitings gebuk gaan;
Die gesondheidsrisiko’s wat die oorvloei van riool by Boekenhout, Sishen en Pompstasie 247 sedert 2014 inhou;
Die mislukking van die borgtogaansoek van die ses vermeende moordenaars van DA-raadslid Johanes Baaitjie en sy sakevennoot asook
Die afname in die Gamagara munisipaliteit se likwiditeit oor die eerste twee kwartale van 2016, wat die munisipaliteit se vermoë om sy skuld te delg en verpligtinge na te kom ernstig belemmer.
‘n Pleidooi is aan die Staande Komitee oor Openbare Rekeninge en die Portefeuljekomitee vir Samewerkende Regering gerig om toe te sien dat finansiële bestuur en administrasie by die Gamagara munisipaliteit verbeter.
Vrae sal by die volgende geleentheid gerig word aan die relevante LUR’e oor:
Die munisipaliteit se agterstallige skuld aan diensverskaffers soos Eskom;
Die onverantwoordelike wanbesteding van voorwaardelike toelaes, soos weerspieël in die onlangse finansiële state van die munisipaliteit;
Die gehalte van vullisverwydering in Kathu, wat dikwels net meer rommelstrooiery tot gevolg het asook
Die vermorsing van water weens onherstelde lekkasies en die versuim van die munisipaliteit om aandag te skenk aan die munisipale infrastruktuur terwyl die streek tans ‘n droogte ervaar.
Navrae:
Andrew Louw
DA Provinsiale Leier in die Noord-Kaap
082 383 6914
Tharina Whittaker
Navorser
076 551 0312