
Willem Faber LP
DA Member of the NCOP for the Northern Cape
082 572 1007
More (13.01.2013) word ‘n 15-jarige leerling van Windsorton en ‘n leerling van Hoërskool Diamantveld in Kimberley begrawe nadat hy vermoedelik dood is aan breinvliesontsteking. Die tragiese van hierdie kind se dood is egter dat dit moontlik voorkom kon gewees het as dit nie was vir die nalatigheid van mediese personeel by die hospitaal in Warrenton nie.
Willem Faber, DA-lid van die Parlement, het ‘n beroep gedoen op die Noord-Kaapse LUR vir Gesondheid, Mxolisa Sokatsha, om hierdie saak te ondersoek aangesien dit moontlik as gevolg van nalatigheid aan die kant van Warrenton se hospitaal was. Die seun kon nie voldoende en betyds mediese hulp ontvang nie. Die seun moes bykans agt ure lank op ‘n ambulans wag om hom na Kimberley te vervoer.
Faber gaan ook ‘n indringende ondersoek loods na ander soortgelyke voorvalle waar pasiënte moontlik dood is as gevolg van die nalatigheid van mediese personeel. Hy wil ook vasstel wat die reaksietyd van ambulanse is om mense wat in nood verkeer of hulp benodig, te help.
Die seun se ma het aan Faber vertel hy het verlede Dinsdag sleg gevoel en hulle het hom na ‘n plaaslike dokter geneem wat hom na die hospitaal verwys het waar hy ‘n “lumber punch” moes kry. Dit kon nie gedoen word nie omdat die hospitaal glo nie die nodige naalde gehad het nie.
Die seun is toe verwys na die Kimberley-hospitaal. Die gesin het nie mediese fonds nie. Die ma vertel sy het kort-kort gevra wanneer die ambulans sou opdaag om haar seun te vervoer, maar mediese personeel het geantwoord dat die ambulans met ‘n ander kritiese geval besig was. Haar herhaaldelike versoeke om die ambulans te laat kom, het op dowe ore geval en die hospitaal het haar ingelig dat sy sou moes wag totdat die ambulans die nagpersoneel opgelaai en na die hospitaal gebring het. Omstreeks 19:00 die aand is hy eers na Kimberley vervoer.
Hoewel dokters alles in hul vermoë gedoen het om die seun se lewe te red, is hy dood en word hy more (13.02.2013) vanuit die NG Kerk Windsorton begrawe.
“As lid van die nasionale parlement dienende op die portefeulje komitee vir gesondheid, gaan ek daarop aandring dat ‘n ondersoek na hierdie voorval gedoen word. Dit was nalatigheid aan die kant van hospitaalpersoneel en dit het ‘n lewe gekos. Het die hospitaal net een ambulans?”, wil Faber weet.
“Waarom het die hospitaal nie die ouers ‘n vrywaringsvorm laat teken en voorgestel dat hulle self ry nie? Die ma en seun moes die hele dag op ‘n stoel sit en wag vir hulp.
“Die vraag is dus nou, hoeveel ander mense het reeds gesterf as gevolg van sulke nalatigheid? Die DA sal hierdie situasie nie ongesiens laat verbygaan nie, en soek antwoorde hierop. Dit is ontoelaatbaar dat enige persoon sterf weens nalatigheid van personeel van hospitale asook ambulanse wat boonop eerder gebruik word om personeel te vervoer.
“Gesondheid is ‘n noodsaaklike diens wat vir almal in Suid-Afrika toeganklik moet wees. Geen lewens mag vir die nalatigheid van personeel boet nie.”